Skip to content
25 November 2010

Plakkery neem met 1000% toe sedert 1994

http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Plakkery-neem-met-1000-toe-sedert-1994-20101125

Plakkery neem met 1000% toe sedert 1994

Lizel Steenkamp

KAAPSTAD. – Plakkerskampe het sedert 1994 met meer as 1000% toegeneem, grootliks omdat die howe in grondbesetters se guns beslis, het mnr. Tokyo Sexwale, minister van huisvesting, gister in die parlement gesê.

Daar is nou sowat 2700 plakkerskampe landwyd. Terselfdertyd word al hoe meer geboue in stedelike sakekerns beset.

Sexwale het spesifiek verwys na die “plundering van voorkeurgrond” waarop “plakkershutte, krotbuurte en ghetto’s” verrys. Die regering word dan gedwing om ten duurste basiese dienste te lewer waarvoor nooit beplan is nie.

Hy het aan die portefeuljekomitee oor huisvesting gesê die “gety van mense wat na stede stroom en grond gryp”, gaan moeilik gestuit word, omdat die howe die afgelope jare ’n “presedentereg” geskep het waar “uitspraak ná uitspraak” die besetters bevoordeel.

Hy het ’n ernstige beroep op howe gedoen om te besin en ook die parlement versoek om ondersoek daarna in te stel.

“Die vreesaanjaendste voorbeeld is die Johannesburgse metroraad wat huurgeld moet betaal aan die eienaars van geboue wat deur mense in die stad beset is.

“Hulle stroom na die stede, hulle plak 48 uur lank en dan moet ons dienste voorsien of ons nou wil of nie. En hulle hou aan om dit te doen, want daar is kragtige hofbevele in hul guns.”

Volgens Sexwale is wetgewing oor uitsettings en die besetting van grond bedoel om armes, wat geslagte lank op grond woon, teen uitsetting te beskerm. “Dis nie veronderstel om sindikate en mense wat op jou werf plak, te beskerm nie.”

Hy het mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, en genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, geprys vir hul spoedige optrede teen besetters in die Johannesburgse middestad waar 80 geboue onlangs “bevry” is. Een só ’n gebou in Endstraat word nou opgeknap en sal teen Junie verblyf aan sowat 900 gesinne kan bied.

Dit het voorts aan die lig gekom reuse-huisvestingprojekte word vertraag weens ’n gebrek aan infrastruktuur soos damme, rioolsuiweringsaanlegte, stormwaterstelsels, kraglyne vir elektrisiteitsvoorsiening en pypleidings vir watervoorsiening.

Die infrastruktuur word egter nie deur die departement van huisvesting opgerig nie en vereis ’n geïntegreerde aanslag van ’n groep staatsdepartemente.

Volgens Sexwale moet huisvestingsprojekte op dieselfde wyse as infrastruktuur-ontwikkeling vir die afgelope Wêreldbeker-sokkertoernooi bestuur word.

“Daar was geen probleem om paaie, water, krag en sanitasie aan die stadions te voorsien nie, want al die beplanning het om een tafel gebeur.”